FOUTE OP DIE WEBWERF
Ek kry gereeld navrae, van veral versamelaars, wat wil weet of die boeke se name wat aangedui word, in die korrekte volgorde aangedui word, soos wat dit oorspronklik deur die betrokke skrywers geskryf is?
Dit is ongelukkig nie moontlik om so ’n magdom inligting van boeke, se informasie altyd heeltemal akkuraat te kan weergee nie, weens ’n verskeidenheid van redes. Die meeste boeke wat op hierdie webwerf voorgehou word, is in die orde van vyftig tot sestig jaar oud. Beperkte bronne van inligting bestaan ongelukkig vandag, van waar die nodige inligting van al die reekse en losstaande boeke bekom kan word.
Die boeke op hierdie webwerf se naam, skrywer, uitgewer, jaartal en nommer volgorde is gevolglik verkry vanaf ’n verskeidenheid van bronne. Naamlik ons hoof biblioteek argiewe te Kaapstad, Pretoria, Durban, Bloemfontein, Port Elizabeth en Pietermaritzburg, privaat en staatsbiblioteke/museums, P.J. Nienaber se reeks van "Bibliografie van Afrikaanse Boeke" (Deel 1 - 9), uitgewers, drukkers, inligting uit die gedrukte boeke self en ook mede versamelaars se kennis van die betrokke boeke. Ongelukkig is ander erkende versamelaars se woord alleen, nie altyd voldoende genoeg, sonder meer stawende inligting nie, maar wanneer absoluut geen inligting rondom ’n gegewe boek bekend is nie, word dit dan wel tydelik so opgeskryf en gebruik.
Ten spyte van al bogenoemde bronne, is dit soms die geval dat inligting wat wel bekend is, steeds baie beperk is en verder moet daar in gedagte gehou word dat foute ook gemaak is by die erkende bronne. Verskeie gevalle kom voor waar twee of meer bronne verskillende informasie aandui, vir presies dieselfde boek. Watter een van die bronne is nou die korrekte aanvaarbare ene? Sekere van die boeke se informasie op die webwerf kon dus tot op hede nog nie opgespoor word nie en baie van die boeke se korrekte inligting sal seker ook nooit opgespoor kan word nie, omrede dit eenvoudig êrens langs die pad vir altyd verlore geraak het.
Om terug te kom na die nommers van die boeke. ’n Besluit moes geneem word, hetsy om van die “onbekende” boeke se nommers uit te laat, al dan nie. Ter wille van volledigheid, in terme van ’n nommer struktuur, is daar toe besluit om wel die boeke almal te nommer, alhoewel van die boeke se korrekte nommer volgorde dus foutief mag wees. Boeke waar die oorspronklike nommers nie opgespoor kon word nie, is die boeke volgens die betrokke boek se jaartal by ander boeke, met dieselfde jaartal gevoeg of dit is gevoeg by die naaste jaartal van die betrokke reeks boeke. Indien geen jaartal bekend is nie, dan is die boek bloot gelys onder ’n gegewe nommer, wat toevallig baie naby of dalk ver weg mag wees van sy korrekte posisie. Daar is dus daadwerklik gepoog om die boeke se inligting so akkuraat moontlik te lys en moet dit so ingesien en hanteer word.